• NGH4
  • NGH2
  • NGH3
  • NGH1

Madagaskar Nuus April 2014

Geliefdes,


Dit is ń voorreg om weer met u te kan gesels oor ons doen en late. Ter wille van die wat nie toegang tot Facebook het nie, sal ek so volledig as moontlik probeer wees.

Dit gaan goed met ons en ons is gesond. So nou en dan maar ń pyn en skeet wat maar so saam met die ouderdom op die koop toe kom, maar verder beleef ons baie seën en genade!

Gedurende Februarie het ons ń besoek gebring aan SA en verskeie gemeentes besoek. Dit was heerlik om almal weer te sien en saam met u te kon aanbid. Dit was vir ons ń seën om bedien te kon word! Ons sou natuurlik graag met meer van u op persoonlike vlak wou sosialiseer, maar ek dink u verstaan dat dit net nie moontlik was nie. Naweke en aande was gevul met eredienste en kleingroep besoeke en tussen in vergaderings en dokters en tandartsbesoeke! Baie dankie aan die gemeentes en groepe wat ons so gul en hartlik ontvang het. Dit was heerlik om saam met u te wees en dit was vir ons geestelik en liggaamlik verkwikkend. Ons wil graag probeer om Dv 2015 ń klein bietjie langer te vertoef sodat ons darem ook so ruskansie kan inkry!

Maar nouja, die tyd stap aan en die oes is groot en die arbeiders min. Ons staan tans kniediep in voorbereiding vir twee weke van evangeliesasie opleidingskursusse wat Dv in Junie te Tulear sal plaasvind. Ons is besig om op hierdie stadium die vier grootste kerke in Tulear te betrek. Die gedagte is om uitgesoekte lidmate van hierdie kerke op te lei ( ten minste sestig )en die gemeentelede deur die opgeleides te laat besoek, sodat ons kan seker wees die lidmate van die bestaande kerke is kinders van die Here. Ons is ook stadig maar seker besig met ń voorbereidingsproses vir die bestaande kerk as "sendingvoertuig."


Ek het reeds een tot een gesprekke gevoer met die predikante en van die ander kerkleiers, maar moes dit egter kortknip om terug te keer na Tana nadat ons nuus ontvang het dat my skoonsus haar stryd teen kanker verloor het, en ek tuis wou wees om Tina by te staan. Dit is haar enigste broer en lewende familie wat sy vroutjie verloor het, en hulle was kinderloos. Ons kinders is ook hulle kinders en omdat ons baie na aan mekaar was, was dit vir almal, maar veral vir haar erg traumaties. Die feit dat ons nie daar kon wees om hom by te staan of selfs net ń drukkie kon gee nie het sake gekompliseerd! Gelukkig woon Sanita ( ons dogter) daar naby en kon sy ons plek volstaan! Dankie Sanita, ons besef dit was vir jou ook ń rowwe tyd soos jy in jou huldeblyk geskryf het : " Jy was my tweede ma, toe my beste vriendin en nou my beskerm engel"

Terug by die opleiding. Dit is nogal tydrowend om alles in plek te kry. Daar is boeke wat gedruk moet word, spanleiers vir die praktiese gedeelte van die opleiding moet gereël word. Reisreëlings, akkommodasie, etes en verblyf vir ses spanleiers, twee tolke en vier opleiers, opleidingslokale, ens. ens. Meeste van die goed is reeds in plek en moet maar net gereëld opgevolg word. Onthou die infrastruktuur is maar gebrekkig en die kultuurverskil is groot! Intussen het sikloon Hellen ook nog haar verskyning gemaak en sake bemoeilik deur ons ń paar dae binnenshuis te hou en kommunikasie ietwat meer te bemoeilik! Gelukkig het ons net erge wind en reën gekry. Meer noord by Mujahanga is egter baie skade en duisende mense dakloos. Gelukkig het Unicef en nog ander NGO'S daar ontplooi en staan die mense by. Ons dank die Here ook vir hulle wat bereid was om hand uit te steek en die nood te verlig.

Ons prys die Here vir die geleenthede wat Hy geskep het en deure wat Hy vir ons oopgemaak het. Ons dank Hom vir EE111 Afrika wat ingewillig het om ons op eie koste te help met hierdie uitreik. Ons vra dat u saam met ons sal bid dat die Here die hoorders en leerders sal voorberei om oop en ontvanklik te wees. ONTHOU! Hierdie is alles deel van die groter plan om die bereiking van die Mikea!

Gedurende en na die opleiding en praktiese uitreike in die gemeentes, sal ons ń span saamstel wat Dv. September of Oktober onder my leiding ń drie weke uitreik in die woud sal doen! Dit sal ń eerste in die geskiedenis van Madagaskar wees! Hierdie span sal intussen voorberei en verder opgelei moet word. Bid asb. ook saam met ons vir die Here se leiding ,guns by die owerhede en logistieke hulpmiddels vir hierdie belangrike uitreik.

Nou ja, soos u kan sien het ons ń lekker vol program vir die volgende paar maande. Ons sal u op hoogte hou met vordering! Hou asb. op u gebedslys die volgende: Dat ons getrou sal wees in die soeke na Sy wil. Ons fisiese gesondheid. Ons hulpmiddels om die werk gedoen te kry. Ons persoonlike onderhoud.

Baie dankie dat u saam met ons hierdie opwindende reis onderneem en ons daarin bystaan. Ons maak staat op elke gebed en stukkie ondersteuning. Dit is vir ons kosbaar en ons dank God vir u gehoorsaamheid. Aan Hom alleen die eer!!

Vrede vir julle!!

Mede in Sy diens.

Nic en Tina.

Artikel geplaas op die NG KErk Hartenbos se Facebook blad deur Nic Strydom op 10 April 2014