• NGH4
  • NGH2
  • NGH3
  • NGH1

Hartenbos Bybelskool

Ons Bybelskool vind voortaan plaas onder bediening van Ds Willem elke Dinsdag 17:00 en/of 18:00 in die Kleinsaal. Ons doel is om te groei in KENNIS van God. In Bybelse terme beteken dit baie meer as om God en sy Woord net beter te leer ken (kopkennis); dit beteken om te groei in ons VERHOUDING met God (hartkennis). Die begrip “kennis” in die Bybel word dikwels gebruik vir die intiemste van menslike verhoudings, nl die huwelik! Kennis van God impliseer dus ‘n groeiende intieme verhouding met God. By ons Bybelskool vra ons deurentyd die een vraag: Hoe help dit wat ons leer ons in ons verhouding met God en mense? Ons glo: om van God en sy Woord te LEER beteken om met God en sy Woord te LEEF.

Ons het besluit om te begin met ‘n oorsig oor die hele Bybel. Ons wil graag ‘n oorsigtelike voëlvlug neem oor elke Bybelboek, bv hoe die boek ontstaan het, wie die skrywer(s) was, wie die eerste lesers was, wat die doel van die boek is, wat die kernelemente en kernboodskap van die boek is, ens. Ons gee ook elke keer geleentheid vir vrae en kommentaar. Dit is dus nie ‘n skool klassie nie, dit is ‘n betekenisvolle gesprek waarin ons mekaar help om in ons verhouding met God te groei. En nee, ons gaan nie toetse skryf nie en ons gaan niemand vasvra nie. Jy neem deel net soos jy wil. As jy niks te sê het nie, dan sê jy niks! Maar as jy iets te sê of te vra het, is jy welkom.

Ons het begin met die eerste vyf boeke van die Ou Testament en daarna gaan ons die vier Evangelies en Handelinge uit die Nuwe Testament behandel. So be-oog ons om die Ou – en Nuwe Testament alternatiewelik deur te werk. Ons wil ook nou en dan ‘n aand afstaan aan mense se vrae – dit beloof om baie interessant en betekenisvol te wees!

Die Bybelskool wil ook graag tot diens van die groter gemeente wees. Ons droom om ‘n toerustingsliggaam te word wat volgens die gemeente se behoeftes toerusting, kursusse, kampe en opleiding te fasiliteer. Ons wil ook nie net vir onsself bestaan nie; ons wil graag diensbaar wees in die gemeenskap (dalk later takke in die groter gemeenskap stig?!).

Ons wil ook baie graag groei deur almal in te sluit – veral jonger mense en kinders. Ons nooi JOU uit om deel te word. As jy twyfel, kom kuier een aand vir ons en besluit dan of dit is wat jy wil hê. Ek vermoed jy kan dalk ontdek: dis waarna ek nog altyd soek!

As jy meer wil weet is jy welkom om Ds Willem te skakel by 0787883929.