• NGH4
  • NGH2
  • NGH3
  • NGH1

Rus reg

Rus reg in 2017

deur Stephan Joubert

Geluk loop hand aan hand met ’n diep vrede in God. Hiersonder gaan 2017 net nog ’n jaar van onvervulde behoeftes wees. Die regte soort geluk vat regtig pos in jou binneste as jy doelbewus kies om weg te stap van jou eindelose behoeftes na God toe. Die meeste mense vind nooit sulke vrede in die Here nie. Hulle idee van geluk werk soos ’n dwelm. Hulle dink nog besittings gaan hulle gelukkig maak. Hulle benodig retail therapy of ander tydelike plesiere om goed te voel oor hulleself. Dan raak hulle verslaaf hieraan, sonder dat hulle ooit blywende geluk smaak. Hierdie soort geluk is immers geleë in die volgende ding wat hulle nog moet hê. Die enigste skuif wat in 2017 ewige dividende sal oplewer, is daardie skuif na innerlike vrede. Kom tot rus aan God se voete. Parkeer jou lewe by Hom. Rig vir jou ’n uitkyktoring op in sy teenwoordigheid. Raak stil voor die Here, soos wat Habakuk 2:20 sê. Laai jou laste aan sy voete af. Wag op Hom. Mee, moenie op diens wag nie, wag net op God. Sy teenwoordigheid is hemelse manna. Dan sal jy in 2017 rus kry vir jou gemoed.