• NGH4
  • NGH2
  • NGH3
  • NGH1

Hartenbos Bybelskool

Hartenbos gemeente se Bybelskool word ons HARTSKOOL genoem. “HART”  is ‘n akroniem vir Hartenbos Toerusting. Ons Hartskool vind plaas onder bediening van Ds Willem Smit, elke Dinsdag 17h30 en 18h30 in die Kerk en Kleinsaal. Ons doel is om te groei in KENNIS van God. In Bybelse terme beteken dit baie meer as om God en sy Woord net beter te leer ken (kopkennis); dit beteken om te groei in ons VERHOUDING met God (hartkennis). Die begrip “kennis” in die Bybel word dikwels gebruik vir die intiemste van menslike verhoudings, nl die huwelik! Kennis van God impliseer dus ‘n groeiende intieme verhouding met God. By ons Hartskool vra ons deurentyd die een vraag: Hoe help dit wat ons leer ons in ons verhouding met God en mense? Ons glo: om van God en sy Woord te LEER beteken om met God en sy Woord te LEEF.

Ons kurrikulum bestaan tans uit twee modules. Die eerste module bestaan uit ‘n oorsig oor die hele Bybel. Ons wil graag ‘n oorsigtelike voëlvlug neem oor elke Bybelboek, bv hoe die boek ontstaan het, wie die skrywer(s) was, wie die eerste lesers was, wat die doel van die boek is, wat die kernelemente en kernboodskap van die boek is, ens. Die tweede module is ‘n in-diepte studie oor kernelemente van ons geloof, bv. Wie is God? Wie is die mens? Die Skepping, die hiernamaals en wederkoms, ens. Ons gee elke keer geleentheid vir vrae en kommentaar. Dit is dus nie soos ‘n skool klassie nie, maar dit is ‘n betekenisvolle gesprek waarin ons mekaar help om in ons verhouding met God te groei. En nee, ons gaan nie toetse skryf nie en ons gaan niemand vasvra nie. Jy neem deel net soos jy wil. Ons staan ook nou en dan ‘n aand af aan mense se vrae – dit is gewoonlik baie interessant en betekenisvol!

Die Hartskool wil graag tot diens van die gemeente wees. Ons wil graag breër toerustingsprogramme volgens die gemeente se behoefte daarstel. Ons het  kursusse, kampe en leier opleiding in gedagte. Ons wil ook nie net vir onsself bestaan nie; ons wil graag diensbaar wees in die gemeenskap (dalk later takke in die groter gemeenskap stig?!). Ons wonder nog hieroor; kom wonder gerus saam en maak die droom ‘n werklikheid!

Ons wil ook baie graag groei deur almal in te sluit – veral jonger mense en kinders. Ons nooi JOU uit om deel te word. As jy twyfel, kom kuier een aand by die Hartskool en besluit dan of dit is wat jy wil doen. Ek vermoed jy kan dalk ontdek: dis waarna ek nog altyd soek!

Al ons studiemateriaal is op ons webtuiste beskikbaar vir almal wat daaruit baat kan vind.

As jy meer wil weet is jy welkom om Ds Willem te skakel by 0787883929.

Bybelskool 2018

Volg asseblief die skakels hier onder om die relevante tema af te laai: